Sunday, October 25, 2009

Ons Nuwe Blyplek

Ons het uiteindelik ingetrek en hier is 'n paar foto's.




Die Voordeur















Agterdeur



Thursday, October 1, 2009

Ons trek uiteindelik in 'n huis in

Die bokse staan hoog gestapel en byna alles is gepak. Maandag is 'n vakansiedag en ons trek uiteindelik in 'n huis in. Daar is tot regte gras buite, nie baie nie, maar daar is genoeg om 'n grassnyer te kry.

Trek lyk nogal anders hier as in SA. Dit is baie duur om iemand te kry om dit vir jou te doen. Jy kan ook nie gou iemand kry om te help en almal kom daar aan met hulle bakkies nie. Nee, hier is net Utes, nie bakkies nie en hulle is maar yl gesaai en hier is ook nie familie nie. So, die spiere gaan maar moet werk. Ons huur 'n klein lorrietjie. Hy is so klein jy het nie 'n spesiale lisensie nodig om dit te bestuur nie. Die lorrie het 'n hyser aan die agterkant. Nico en Adriaan het trollies gebou en 'n trollie gekoop vir die bokse. So, dit gaan 'n laaaang langnaweek en 'n week wees. Ons internet gaan ook vir 'n tydjie af wees en ons sal foto's plaas sodra dit weer werk.

Wednesday, September 23, 2009

Sandstorm

Toe ons vanoggend wakker word was daar so bloedrooi skynsel deur die blinders. Soos Adriaan sê, ons hoef nie meer Outback toe te gaan nie, die Outback het hiernatoe gekom. Die wind waai nog steeds woes en dit lyk of die ferries nie die res van die week gaan loop nie. Hier is 'n paar foto's:



http://www.dailytelegraph.com.au/news/indepth/dust-creates-worst-pollution-in-70-years-major-health-warning/story-fn44v660-1225778589663



http://www.dailytelegraph.com.au/news/gallery/gallery-e6frewxi-1225778417848?page=1


Daar was oorstromings, brande en 'n klein aardbewing in die land die afgelope week.

Sunday, September 20, 2009

Ons gaan uiteindelik trek!

Nooit geweet dit kan so moeilik wees om 'n huis gehuur te kry nie, maar lyk of ons tog oor 2 weke uiteindelik in 'n huis kan intrek. Die opsies was vele, van duur tot uiters duur; van muwwerig tot nuwerig en die plek met die lekkerste ligging het die meeste onderhoud nodig. Hier is soveel huurders in die stad dat die agente maak net soos hulle wil. Hulle is waarskynlik die ongeskikste spesie in die stad.

Dit werk so: daar is 2 webblaaie waar mens kan soek na eiendom om te huur. Jy kan natuurlik op die agentskappe se webblaaie kyk, maar hulle adverteer almal op die ander 2 webblaaie. Behuising is geweldig duur in Sydney en mens moet dit maar mooi uitkyk en mens moet die vervoer werk toe en skool toe in gedagte hou. Die stad is reusagtig. Sodra hulle die huis op internet adverteer, wag hulle om te kyk wat die belangstelling is. Jy kan gewoonlik nie 'n afspraak maak om na 'n huis te gaan kyk nie. Hulle skeduleer 'n tyd wanneer die huis oop is vir inspeksie. Die huis is dan net vir 15 tot 30 minute oop en daar is gewoonlik tussen 5 en 10 gesinne terselfdertyd by die huis om te kom kyk. Die plekke is partymaal ver uitmekaar en jy moet maar besluit na watter een jy op watter tyd gaan kyk en watter een jy moet uitskakel. Die probleem is dat party van die agente uitstekende fotograwe is en ander is pateties. Ons het al 'n hele paar kilometer deur die verkeer gery, dan vertrap die mense mekaar om die huis te sien, want dit foto's lyk so goed, maar dan lyk die huis pateties. Party mense draai sommer om sodra hulle by die huis instap. Dan is die teendeel ook waar. Soms het die foto's nie baie belowend gelyk nie, dan is die huis baie mooi. Maar so kom dit ook nou tot 'n punt. Soos ek sê, daar is nie veel foto's van die huis op internet nie en ons sal foto's neem wanneer ons intrek.

Nico gaan 'n klein lorrie met 'n hyser bespreek en hy het 'n trollie gekoop en 'n plat trollie gebou. Ons hoop die rug hou dit! Hy en Adriaan en vriende se seun gaan alles trek. Ongelukkig trek ons op 'n vakansiedag, so ek sal ook moet help :-) Toe ons ingetrek het was daar so fris Chris wat sommer met die yskas op sy een skouer by die trappe opgestap kom en net daarna met die eetkamertafel.

Dit is nou net meer as 'n jaar sedert Nico hier aangekom het en ons kan nou behoorlik begin nes skop. Ons kan nie wag om 'n lekker braai saam met vriende te hou nie. Ons sien so uit na Kersfees as almal kom kuier!

Tuesday, August 11, 2009

Ander Huis

Na lank se wag het die agent ons laat weet dat daar 'n probleem is met die herstelwerk aan die huis wat ons wil huur. Ons wil nou 'n ander huis huur wat min of meer in dieselfde omgewing is. Dit is meer geskik vir Riana wat vervoer aanbetref, maar effens moeiliker vir Adriaan. Hier is 'n paar foto's.


















Ons kan eers teen middel September intrek en tel al die dae af.
Intussen besoek ons gereeld die Lane Cove Nasionale Park, 'n ideale plek om Sondae die batterye te laai vir die week. Dit is 'n bewaarde gebied in die stad met baie bome en daar is 'n rivier en dam met eende. Ons was nog elke keer teen laatmiddag daar en kon nog nie mooi foto's neem nie. Mens kan ver stap of fiets ry en daar is lekker piekniek plek.
Sondag het ons besluit om Fishermans Beach toe te ry op die noordkus. Daar aangekom was daar 'n hele klomp helikopters en die polisieboot was op die water, maar ons het die kameras by die huis vergeet! Ons het uitgevind daar is 'n man wat gesnorkel het wat vermis geraak het. Teen laatmiddag is die soektog gestaak weens swak lig. Hy het met 'n swaar belt gesnorkel en hulle vermoed hy is in 'n grot ingetrek. Hy het die volgende dag op die strand uitgespoel, baie hartseer vir sy naasbestaandes. Hy was nog jonk en het jong kinders.




























Monday, July 13, 2009

Ons kan nog steeds nie trek nie!

Die frustrasie loop hoog in die Henning vuurhoutjieboks-grootte huishouding. Die huis waar ons wil intrek is nie gereed nie. Hulle is nog besig met veranderings in die badkamers, verfwerk, ens. Gelukkig kan ons langer aanbly in die woonstel, maar ons moet 21 dae kennis gee wanneer ons wil trek. Die bokse is van hoek tot kant opgestapel op die een parkeerplek tot teen die dak. Omtrent alles is gepak en staan die spasietjie vol in die woonstel, maar dit is 'n kwessie van "all dressed up and nowhere to go". Adriaan is met vakansie, maar die trek gaan na die vakansie plaasvind. So brom ons elke aand in mekaar se ore, maar ons weet nog nie wanneer ons kan trek nie. Ons het begin uitkyk vir 'n ander huis, maar kon nog nie iets soortgelyks kry nie. Maar glo my, elke hond kry sy dag en 'n brak..... kry 'n week!

Wednesday, June 10, 2009

Ons gunsteling winkel in die stad