Wednesday, September 23, 2009

Sandstorm

Toe ons vanoggend wakker word was daar so bloedrooi skynsel deur die blinders. Soos Adriaan sê, ons hoef nie meer Outback toe te gaan nie, die Outback het hiernatoe gekom. Die wind waai nog steeds woes en dit lyk of die ferries nie die res van die week gaan loop nie. Hier is 'n paar foto's:



http://www.dailytelegraph.com.au/news/indepth/dust-creates-worst-pollution-in-70-years-major-health-warning/story-fn44v660-1225778589663



http://www.dailytelegraph.com.au/news/gallery/gallery-e6frewxi-1225778417848?page=1


Daar was oorstromings, brande en 'n klein aardbewing in die land die afgelope week.

Sunday, September 20, 2009

Ons gaan uiteindelik trek!

Nooit geweet dit kan so moeilik wees om 'n huis gehuur te kry nie, maar lyk of ons tog oor 2 weke uiteindelik in 'n huis kan intrek. Die opsies was vele, van duur tot uiters duur; van muwwerig tot nuwerig en die plek met die lekkerste ligging het die meeste onderhoud nodig. Hier is soveel huurders in die stad dat die agente maak net soos hulle wil. Hulle is waarskynlik die ongeskikste spesie in die stad.

Dit werk so: daar is 2 webblaaie waar mens kan soek na eiendom om te huur. Jy kan natuurlik op die agentskappe se webblaaie kyk, maar hulle adverteer almal op die ander 2 webblaaie. Behuising is geweldig duur in Sydney en mens moet dit maar mooi uitkyk en mens moet die vervoer werk toe en skool toe in gedagte hou. Die stad is reusagtig. Sodra hulle die huis op internet adverteer, wag hulle om te kyk wat die belangstelling is. Jy kan gewoonlik nie 'n afspraak maak om na 'n huis te gaan kyk nie. Hulle skeduleer 'n tyd wanneer die huis oop is vir inspeksie. Die huis is dan net vir 15 tot 30 minute oop en daar is gewoonlik tussen 5 en 10 gesinne terselfdertyd by die huis om te kom kyk. Die plekke is partymaal ver uitmekaar en jy moet maar besluit na watter een jy op watter tyd gaan kyk en watter een jy moet uitskakel. Die probleem is dat party van die agente uitstekende fotograwe is en ander is pateties. Ons het al 'n hele paar kilometer deur die verkeer gery, dan vertrap die mense mekaar om die huis te sien, want dit foto's lyk so goed, maar dan lyk die huis pateties. Party mense draai sommer om sodra hulle by die huis instap. Dan is die teendeel ook waar. Soms het die foto's nie baie belowend gelyk nie, dan is die huis baie mooi. Maar so kom dit ook nou tot 'n punt. Soos ek sê, daar is nie veel foto's van die huis op internet nie en ons sal foto's neem wanneer ons intrek.

Nico gaan 'n klein lorrie met 'n hyser bespreek en hy het 'n trollie gekoop en 'n plat trollie gebou. Ons hoop die rug hou dit! Hy en Adriaan en vriende se seun gaan alles trek. Ongelukkig trek ons op 'n vakansiedag, so ek sal ook moet help :-) Toe ons ingetrek het was daar so fris Chris wat sommer met die yskas op sy een skouer by die trappe opgestap kom en net daarna met die eetkamertafel.

Dit is nou net meer as 'n jaar sedert Nico hier aangekom het en ons kan nou behoorlik begin nes skop. Ons kan nie wag om 'n lekker braai saam met vriende te hou nie. Ons sien so uit na Kersfees as almal kom kuier!