Thursday, April 2, 2009

Die blog is lanklaas opdateer, hoofsaaklik weens luiheid. Net om te laat weet dit gaan nog goed met ons al drie. Ons kry vreeslik baie reën op die oomblik en dit begin koeler word. So, die familie daar in die noordelike halfrond begin seker warmer kry. Hier was heelwat oorstromings, maar ons is nie daardeur geraak nie. Die land is nogal erg getref eers deur die brande en daarna deur die oorstromings.

Nico het nog nie werk nie en gaan binnekort 'n paar kursusse bywoon waarby hy sal baatvind wanneer hy werk kry. Dit gaan goed met die huishouding: ek kan nie meer onthou hoe om kos te maak, wasgoed te was en huis skoon te maak nie. Verder bederf hy my deur my by die werk op- en af te laai. Ek werk baie lekker en ons is besig op die oomblik.

Adriaan is ook besig by die skool. Die skole sluit net voor die Paasnaweek. Hy wou graag in SA gaan kuier, maar die vakansie is so kort en stem nie ooreen met Nico Jnr se vakansie nie, dus het hy besluit om te bly. Ons sal nog sien wie kom kuier in Desember....

Ons het die naweek melktert gemaak en het Dinsdag bietjie die biltong en droë wors aangevul. Hierdie naweek gaan ons beskuit bak. Nico en Adriaan is ook lus vir koeksisters (nie my spesialiteit nie) en ek sal dit ook maar in 'n stadium moet probeer. Hoor juis my skoonsus bak hulle so lekker in België. As ek die familie in die VK was het ek daar gaan kuier! Sy maak nog lekker kos ook. My resepteboeke is nog ingepak, so stuur maar die lekker resepte aan.

Verder het ek begin om my storie te skryf van hoe ons hier gekom het. Daar is so baie mense aan die anderkant wat altyd uitvra en dit is 'n ongelooflike pad wat ons met die Here stap. Ek skryf die storie in Engels met die hoop dat dit meer mense sal bereik en het gedink om dit stuk vir stuk op die blog te plaas, maar dit is besig om baie vinnig baie lank te word. Hou maar die spasie laaank dop, daar is nog baie om te skryf en dan moet ek besluit hoe om dit te plaas ook.

Ons het plek bespreek by Jervis Bay suid van die stad vir die Paasnaweek. Kyk gerus op Google Earth, dit lyk vreeslik mooi. Ons het 'n klein huise bespreek op die strand in die baai. Ons het ook kayaks bespreek en wil gaan roei en snorkel (moet nog net die boks met die snorkels gaan soek). Ons sien baie uit daarna en hoop nie dit reën te veel nie. Hoop die haaie swem nie in die baai nie.

Die "Inbox" is maar leeg aan hierdie kant op die oomblik. Skryf vir ons 'n briefie en laat weet hoe dit gaan. Ons mis die familie en vriende.

Groete van ons al3 hieronder.

No comments:

Post a Comment