Tuesday, August 26, 2008

Ons ervarings die afgelope 3 maande

Ja, dit is vandag presies 3 maande sedert ons in Australië aangekom het. Toe ons by die lughawe uitstap het ek vir Adriaan gesê hier begin die res van ons lewe. Sy reaksie was dat elke oomblik die begin van die res van jou lewe is. My bedoeling was dat dit 'n nuwe manier van lewe is op 'n totaal vreemde plek, tussen totaal vreemde mense. Dit is 'n groot geleentheid!



So land ons vir die eerste maand in die middestad en na 'n paar dae wonder ons waar is die Aussies, hier is dan soveel Asiërs. Soos hulle hier sê: "Spot the Aussie". Die stad is baie besig met baie geraas, maar die gevoel om vry in die straat rond te loop, selfs laat in die aand en om rustig te slaap in die nag, is net onbeskryflik! Mens loer nog oor jou skouer uit gewoonte. Die koerant rapporteer elke handsak wat gegryp is en die nuus is maar vervelig. Ons is nou 'n ferry-rit uit die middestad en Adriaan gaan partykeer soontoe om inkopies te doen terwyl ek by die werk is.


Dit was 'n groot gestoei om eers 'n meer permanente blyplek te kry en 'n skool vir Adriaan. Aan die einde van die eerste maand trek ons Breakfast Point toe. Toe ons uiteindelik die skool kry, was dit amper skoolvakansie en hy is eers die begin van die nuwe kwartaal (einde Julie) Die skool is in 'n ander voorstad. Ons moes fiets koop, want hy ry per fiets tot by die ferry, los die fiets daar en kry die skoolbus aan die anderkant van die rivier. As hy in die middag terugkom is die fiets nog steeds daar! Daar is aanpassings by die skool, alles is in Engels en almal is vreemd. Daar is kinders van vreeslik baie kulture in een klas. Adriaan hanteer dit baie goed en so oorkom hy elke uitdaging en word 'n sterker mens by die dag. In die eerste week kry hy verkoue en ons het nog nie 'n huisdokter nie. Ons dokter met apteek medisyne en besluit dit is nog nie nodig om dokter toe te gaan nie.


Die openbare vervoer neem lank en dit kan nogal lastig wees as mens gaan inkopies doen. Party goed sal nou net nie op die bus vervoer kan word nie. So koop ons toe middel Augustus kar. Nog 'n mylpaal is bereik en ons kan nou begin om die plek op 'n makliker manier te bekyk. Onthou, die stad is ongeveer 60km x 40km groot. Van die motorhandelaar af gekom, het Adriaan op sy arm geval met die fiets. Dit lyk nie te sleg nie en ons besluit dit is na-ure en pynpille sal die ding moet doen vir die nag. Twee dae later is dit nog seer en ons vind toe 'n huisdokter. Gelukkig is dit nie ernstig nie en ons het nou 'n huisdokter. Die fiets moet nog reggemaak word. Die bure is baie behulpsaam en het probeer help, maar dit sal fietswinkel toe moet gaan om reggemaak te word.


Kerk soek is nie vir sissies nie. Ons het uiterstes ervaar en het nog nie ingeskakel nie. Slegs 20% van die inwoners is Christene. Die Katolieke Kerk is groot hier en hier is ook baie Ateiste. Hulle hou die gelowiges fyn dop en kyk net wat hulle verkeerd doen sodat hulle dit kan kritiseer en rede probeer kry om nie te glo nie. Christene het 'n groot verantwoordelikheid. Die pous was hier in Julie en hulle het die Katolieke met valk oë dopgehou en hulle gekritiseer vir elke bier wat hulle drink. Om alles te kroon was daar vanoggend 'n nuusberig van 'n klooster waar kinders gemolesteer is sedert die tagtigs.


Na meer as 2 maande kry ons so lus vir boerewors. Een van Adriaan se onderwysers het vir hom vertel van 'n Suid-Afrikaanse deli wat nie vreeslik ver van ons af is nie. Hulle vleis en groente is heerlik vars en daar is natuurlik boerewors, droë wors en biltong! Ons dag was gemaak. Hulle hou allerhande produkte aan soos Mrs Balls, SA wyn, Ouma beskuit, mieliemeel, ens. Alles kom natuurlik met 'n prys, maar dit is die moeite werd om so nou en dan soontoe te gaan. Adriaan mis nog net die Maynhards wine gums.


Dit is moeilik om te beskryf hoeveel kulture rustig saamleef in hierdie stad. Die mense is vriendelik en behulpsaam en mense van vreemde lande is welkom. Die Suid-Afrikaners staan saam en ons loop gereeld iemand raak wat Afrikaans praat. Elkeen bied hulp aan, veral as hulle hoor ons Pa en Broer is nog nie hier nie. Ons het nog nie ernstige vriende nie, maar het begin kennis maak met mense van allerhande kulture. Die werk is maar baie dieselfde as in SA, dit is immers dieselfde maatskappy. Daar is net soveel meer kulture, maar die samewerking is baie goed. Rondom my plek waar ek sit is 'n Chinees, Brit, Fillipyn, Koreaan, Japanees, Indiër, 'n paar Swede en 'n Aussie.


Ons aardse bessitings in SA word nou verpak en word Vrydag in 'n kassie gepak om oor die see gestuur te word. Die Nico's hardloop hulle bene stomp om alles klaar te kry aan daardie kant, want daar mag geen grond of stof aan wees nie. Hulle beplan om die 14de September hier aan te kom en ons tel al die slapies!

No comments:

Post a Comment